Wals (tegnies)

Wals het betrekking op die vorming van metaalblokke en -stawe tussen swaar rollers. Hierdeur word plate, ronde stawe, pype en allerlei profielstawe gevorm. Wals, soos smee, stuik, ensovoorts, behoort tot die plastiese vormingstegnieke. Dit word toegepas by metale en ander materiale wat onder druk permanent gevorm word.

Omdat metale dikwels by hoë temperature gewals word, word die walse gewoonlik reg agter die smeltoonde ingerig. Die walse lewer ronde stawe, balke, profielstawe, plate en pype in standaardafmetings en word in die metaalbedryf tot ander produkte verwerk. Spesifieke profiele word soms in kleiner, gespesialiseerde walse gevorm, hoewel dit ook met groter, verstelbare walse gedoen kan word. Die eerste, ligte walse het reeds in die 16e eeu in gebruik gekom en is deur water- of windkrag aangedryf.

Swaar walse, wat deur stoomenjins aangedryf is, is van die einde van die 18e eeu af in Engeland gebou. By ArcelorMittal South Africa, voorheen Yskor se staalwerke (Pretoria, Vanderbijlpark en Newcastle) word staalblokke eers vooraf tot sogenaamde voorblokke en platblokke gewals voordat dit verder verwerk word. Voorblokke is naastenby vierkantig en platblokke reghoekig. Die gietblokke wat tot voorblokke gewals word, het 'n massa van ongeveer 7 ton en platblokgietblokke ʼn massa van 28 ton.

Walse bestaan oor die algemeen uit 2 groepe: die wat ontwerp is vir plat produkte soos plate, fynplate en bande, en die vir profielprodukte soos spoorstawe, kanaal- en hoekyster, ensovoorts. Profielprodukte word uit voorblokke en knuppels vervaardig. Die voorblokke is groot halfvoltooide stawe wat bedoel is vir swaar- en middelslagprofiele en -stawe. Knuppels is klein halfvoltooide stawe wat bedoel is vir ligte profielprodukte, ligte stawe en walsdraad.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy